ONTVANG ONS NUUSBRIEF

 

Marlow Landbouskool

Meer as net 'n skool

 

Krieket

Marlow se krieket het die 2016/2017 seisoen van krag tot krag gegaan. Die skool het soos gebruiklik sy twee O/15-spanne, tweede span en die eerste span in die veld gestoot.

 

Marlow se O/15B-span van Mnr Jaco Beukes speel in dieselfde liga as die A-span en weeg baie goed op teen die ander skole se A-spanne. Hierdie jaar was geen uitsondering nie en het die span selfs van die ander skole se A-spanne op hul neuse laat kyk. Die span speel goeie krieket maar reën en skole wat onttrek, maak dit moeilik om regtig op dreef te kom.

 

Die O/15A-span, onder leiding van Mnr Benninghoff Siebert, speel belowende krieket maar ander skole het nie altyd hul bepalings nagekom nie en moes baie wedstryde gekanselleer word. Hierdie span het baie potensiaal en baie van hierdie spelers speel reeds in die eerste en tweede spanne. In September het Marlow weereens ʼn baie geslaagde 6-aan-‘n-kant kriekettoernooi aangebied. Dit was die tiende toernooi vir onder 15-spanne en 5 skole het deelgeneem met Marlow wat ‘n A- en B-span inskryf. Marlow se spanne speel baie goed teen ander skole maar ongelukkig het die A-span in die finaal teen Daniel Pienaar verloor.

 

Marlow se tweede span het die jaar weereens in die Winterberg senior liga gespeel. Die spelers lewer goeie kwaliteit spel en daar word gereeld goeie lopies deur die Marlow kolwers geslaan. Die boulers lewer ook goeie spel en spanne is baie keer sommer goedkoop uitgehaal. Die tweede span gaan weer in die 2017/2018 seisoen in hierdie liga speel.

 

Marlow se eerste span is ʼn baie trotse span wat kan terugkyk op ʼn puik seisoen. Hierdie span speel in die volgende ligas: Die Middellande Skole liga, die Winterberg Senior liga asook die Nasionale pro 20 reeks. Hulle neem ook vir die eerste keer deel aan die Punt krieketfees en Despatch pro 20 toernooi asook aan Union High se Cricket festival. Tydens die Punt krieketfees reken die span met groot krieketskole af waaronder die gasheerspan ook tel. In ʼn Pro 20 toernooi reken die Ramme af met eers Lillyfontein en daarna met Otto du Plessis. Die volgende dag verloor hulle ongelukkig teen Framesby. By die Uniontoernooi het die eerste span twee wedstryde gewen en twee verloor. Veral die oorwinning oor Union self was gewis `n hoogtepunt. Marlow was ook die wenners van die nasionale Pro 20 reeks in die Winterberg area maar verloor in die semifinaal teen St Andrew’s College. In die ander twee ligas het Marlow se eerste span slegs een wedstryd verloor. Hulle eindig eerste in die Winterberg liga en stof spanne soos Kwaggas en Michausdal United af met goeie tellings.

 

Baie geluk ook aan Nevaldo Fleurs, Rechard Engelbrecht en Johan Terblanche wat Marlow in die OP Plattelande span verteenwoordig het. Johan Terblanche is ook opgeneem in die SA Skole Plattelande O/17 span.

WEB DEVELOPMENT BY