- 048 881 3121
- hoof@marlowlandbou.co.za
- Mon - Fri: 08:00 - 14:00
Marlow is voorwaar trots op sy rugby. Die skool glo daarin dat ons enige speler, wat ‘n passie vir die spel het, ontwikkel tot sy volle potensiaal. Die skool met sy 250 seuns reis elke jaar duisende kilometers om kompeterende rugby te speel. As skool streef ons om teen net die beste opponente te speel.
Marlow het elke jaar 13 rugbyspanne. Dit sluit in vyf senior spanne, drie 0/16 spanne, drie 0/15 spanne en twee 0/14 spanne. Die skool is ook bevoorreg om 18 doelgerigte afrigters te kan hê.
Daar is geen skool in OP Platteland wat met Marlow kan kompeteer op die rugbyveld nie. Die skool lewer die meeste provinsiale spelers elke jaar in die OP Platteland op.
Marlow se eerste span neem jaarliks deel aan Greame College se toernooi deel. Die Wolramme se 0/16 span word ook elke jaar uitgenooi na die gesogte Paarl Gimnasium 0/16 toernooi en ons 0/15 spanne onderneem in die Junievakansie ‘n toer na die Wes-Kaap.
Marlow bied elke jaar in die Aprilvakansie die MARLOW/SANTAM 0/13 Rugbyweek hier op die plaas aan. Vier en dertig skole vanoor die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap, Suid-Kaap, Vrystaat en Boland woon die week jaarliks by. Hierdie week het deur die jare gegroei tot die grootste van sy soort in Suid-Afrika.
Die fees het deur die jare baie gewild geword en baie moeite word nie net gedoen om die spanne wat die week bywoon, gereed te kry vir die rugbyseisoen nie, maar om ook aan afrigters en rugbyspelers die geleentheid te gee om in ’n rustige, plattelandse atmosfeer op ’n plaas te kom ontspan.
Marlow atletiek is kerngesond met die Wolramme wat hierdie sport tot op distriksvlak geheel en al oorheers. Cradock is baie gelukkig om oor ’n tartanbaan te beskik en alle byeenkomste tot en met megadistriksvlak word plaaslik aangebied. Ons het jaarliks verskeie atlete wat aan die SA Kampioenskappe deelneem.
Marius Corbett, gewese hoofseun van Marlow, was ‘n wêreldkampioen in spiesgooi.
Marlow se krieket het van krag tot krag gegaan die afgelope paar jaar. Die skool het twee O/15-spanne, tweede span en die eerste span wat in die veld gestoot word.
Marlow se tweede span speel in die Winterberg eerste liga. Die spelers lewer goeie kwaliteit spel en daar word gereeld goeie lopies deur die Marlow kolwers geslaan.
Marlow se eerste span is ‘n baie trotse span. Hierdie span speel in die ligas: Middellande Skole liga, die Winterberg Senior liga asook die Nasionale pro 20 reeks. Hulle neem ook deel aan die Pearson krieketfees, Despatch pro 20 toernooi en ons neem deel aan Punt se krieketfees
Ongeveer 50 leerlinge neem ywerig aan tennis deel. Marlow beskik oor 4 tennisbane en maak gebruik van die dienste van 3 professionele afrigters.
Die eerstespan neem jaarliks aan 4 nasionale tennistoernooie deel en die 0/15-span aan 1 toernooi.
Marlow bied jaarliks die gesogte Tjaart Vorster tennistoernooi aan. Tjaart Vorster was in 2001 ‘n matriekleerling aan Marlow. Hy het vir 5 jaar vir Marlow se eerste tennisspan gespeel en is gereeld vir die OP Plattelande span gekies. Hy het ‘n passie vir tennis gehad. Hy het ook ‘n gemiddelde A-simbool in die matriekeindeksamen behaal. Hy sterf in ‘n motorongeluk in sy eerste jaar op universiteit.
Swem raak elke jaar meer en meer gewild op Marlow. Die seuns neem jaarliks deel aan die Karoo Swemgala en ook die B-liga galas wat deur die Oostelike Provinsie aangebied word, is ‘n gewilde aktiwiteit op Marlow se swem kalender. Hierdie entoesiasme van die seuns wat gereeld deelneem aan swem kompetisies, veroorsaak dat die Wolramme nog beter presteer in Tweekamp.
Marlow se tweekamp is kerngesond en een van die vier groter somersporte by die skool. Ongelukkig speel die klimaat en seisoene ‘n groot rol in die sport en is dit tot aan die einde van Oktober nog te koud vir die seuns om werklik met swemoefeninge te begin. Dit maak die sport vir die seuns soveel meer uitdagend en die ±40 seuns wat elke jaar tweekamp doen, geniet dit geweldig baie. Die seuns neem jaarliks aan verskeie interprovinsiale byeenkomste deel en sien sodoende ook ander interessante dele van ons land.
Marlow se skuts neem jaarliks aan die Nasionale Metaalsilhoeët Skietkampioenskappe deel. Die kampioenskappe is op die Bloemfontein Metaalsilhoeët skietklub se skietbaan net buite Bloemfontein. Daar neem skuts van oor die hele land deel as individue of as deel van provinsiale spanne.
Verskeie leerders is kranige gholfspelers. Hulle oefen op Woensdae en Vrydae en neem oor naweke deel teen die skole wat deel vorm van die Winterberg liga. Marlow se span het al verskeie kere hierdie liga gewen. Marlow het ook jaarlikse bepalings teen Framesby en Queens en ons speel ook gholf teen Nico Malan en St Andrews. Die seuns sien elke jaar uit na die gholftoer. Die span toer na verskeie dele in Suid-Afrika om sodoende blootstelling te kry aan ander bane en omgewings.
Die skool is bevoorreg om oor twee muurbalbane te beskik en die seuns besoek die bane gereeld om hul vaardighede te verbeter en hul fiksheid op te skerp. Wedstryde teen buurskole word gereël en die muurbalkampioenskappe vind jaarliks plaas om die beste junior on senior muurbalspeler te bepaal.
Marlow het die afgelope paar jaar baie klem begin lê op die seuns se kondisionering. Daar word gefokus op elke sport met sy eie unieke uitdagings wat krag en fiksheid aan betref. Marlow is bevoorreg om die volgende Kondisioneringsbestuursspan te hê wat die seuns behoorlik voorberei vir elke spesifieke sportsoorte: Mnr Dale de Wet (Sportwetenskaplike), Mev Alet Naude (Biokinetikus) en Mnr Luigy van Jaarsveld (Kondisioneerder) skryf programme vir doeltreffende fiksheid, kragwerk en rehabilitasie.